Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 07 Junie 2015

Goeiemore en welkom. Hier volg die nuusbulletin van die SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA, gelees deur....................(Naam; roepsein en QTH)
Luister elke Sondag deur die hele land na 'n uitsending van SARL-NUUS in Afrikaans om 08:15 SAST en in Engels om 08:30. 'n Teksweergawe van hierdie bulletin kan by www.sarl.org.za, die SARL se webwerf, afgelaai word. Daar is ook 'n skakel na 'n oudio weergawe van die bulletin op dieselfde blad beskikbaar. Jy kan daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin vanoggend se bulletin met nuus van drie stilsleutels

**** ‘n Berig is vanaf Karel ZS6ALD via Tjerk ZS6P ontvang dat Dirk Fourie, ZS6KT se sleutel op Dinsdag 2 Junie, stil geraak het. Dirk het in 1938 op die lug gekom en was 94 jaar oud. Hy het as 'n mynbestuurder op Stilfontein afgetree en op Bela Bela (Warmbad) gaan woon.

Ons innige meegevoel word aan sy seun Dirk en ander familie en vriende oorgedra.

**** Ons voel baie jammer om nou eers bekend te maak dat Peter Linington - ZS6RX, ex ZS5RX, reeds op 12 April 2014 ‘n stil sleutel geraak het. Dit het slegs hierdie week aan die lig gekom.

Peter sal veral onthou word vir sy heldhaftige optrede toe die sikloon Demoina in 1984 die dorp Mtubatuba vir vier en ‘n half dae van die buitewêreld afgesny het. As die enigste kommunikasiekanaal het hy boodskappe, inligting en data via amateurradio uitgestuur. Versoeke is gerig vir alles wat nodig was vir die bakker om brood te kan bak asook vir mediese voorraad, wat per helikopter gelewer moes word. Hy is later vereer vir hierdie diens.

Nadat Peter by Leeupoort, naby Warmbad (nou Bela Bela) afgetree het, het hy ‘n lid van Hamnet geword en gepoog om dié organisasie in Limpopo uit te brei.

Aan sy seuns Bruce (self ‘n aspirant amateur) en Andrew, sy aangenome dogter Samatha en ander familie en vriende, bied ons – in hierdie laat stadium – ons innige meegevoel.

*** Dan neem ons ook met hartseer kennis van die afsterwe van Garth Laaks ZS2HB op 21 Mei. Garth was ‘n aktiewe lid van die Port Elizabeth Amateurradio vereniging. Hy kon Morse kode teen ongeveer 60 woorde per minuut stuur en ontvang. Garth was ook vir baie lank die redakteur van QSX die PEARS nuusbrief.

Garth word oorleef deur sy vrou Elise, 2 seuns Keith en Gary, beide radio amateurs, en Lyle, sy oudste kleinseun, ook amateur in Durban.

Ons betuig ons innige simpatie aan al die familie en vriende van die betrokke sleutels.

POUSE (mistens 5 sekondes)


IN DIE NUUS VANDAG:

PROGRAM OM NUWE AMATEURS TE BETREK
METEORIETSTORTING – DEUR MIKE BOSCH ZS2FM
JEUGNET OP 40 METER
OOS-RANDKLUB HOU VLOOIMARK

Bly ingeskakel vir meer inligting hieroor en ander interessante nuusitems.


***ʼn Program om nuwe en onervare amateurs te help, is op pad.

Etienne Naude, ZS6EFN, het die SARL President Fritz Sutherland, ZS6SF, genader met 'n voorstel om die sogenaamde Rookie Radioamateur-program, in Suid-Afrika van stapel te stuur. Fritz het die voorstel by die daaropvolgende SARL-kommiteevergadering op 13 Mei 2015 voorgelê en dit is eenparig aanvaar. Volgens die president sal hierdie Rookie-program,‘n probleem aanspreek waarmee die SARL lank reeds te kampe het. Dit word beplan om nuwe, onervare radioamateurs, van dag een af hierby te betrek en so hulle belanstelling in die amateurradiowetenskap te verseker.

Etienne se doelstellingsdokument hiervoor sal binnekort aan die SARL se bestuurskommitee voorgelê word vir goedkeuring. Hy het o.a. programme van die ARRL (American Radio Relay League) en RSGB (Radio Society of Great Brittan) bestudeer. Hy wou 'n unieke Rookie-program ontwikkel, wat onervare radioamateurs op nasionale- en internasionale vlak, 'n platform sal gee wat hulle belangstelling en betrokkenheid by amateurradio sal uitbou.

Die Rookie Radioamateur-program sal deur Etienne onder die beskerming van die SARL bedryf word. Sou jy belangstel om betrokke te raak en ‘n sukses van hierdie inisiatief, skakel dan gerus met Etienne, ZS6EFN, per e-pos by etienne@afrigrid.com. Jou betrokkenheid kan 'n groot sukses hiervan maak.

Hou die amateurradiomedia en ander sosiale platvorms dop vir verdere nuus en ontwikkelings t.o.v. hierdie program.


METEORIETSPREIDING – DEUR MIKE BOSCH ZS2FM

Ons is nou in die meteorietspreidingseisoen en daar word verskeie spreidings gedurende Junie verwag. Die belangrikste twee is: Arietds en die Daytime Zeta Perseids met ‘n sigwaarde elke uur van 54 en 20 respektiewelik. Hierdie twee spreidings kan spraakkontakte op 50, 70 en 144 MHz ESB en FM oor afstande tot soveel as 2500 km moontlik maak. Digitale kommunikasie met FSK44I is moontlik via die kleiner spreidings op hierdie bande en op 432 MHz. Daar is ‘n sprongafstand van sowat 500 km op 50 MHz en dit vermeerder op die hoër bande.

Meteorietspreidingsrekords in Suid-Afrika is tans:
50 MHz: 2011 km met FSK44l en 1929 km op ESB
70 MHz: 1527 km met FSK44l en 1183 km op ESB
144 MHz: 1975 km met FSK44I en 1524 km op ESB.

Kyk verder op die SARL se BHF-forum vir meer besonderhede


ANDER AKTIWITEITE OP BHF

** Carl Minne, ZS6CBQ het ‘n net gestig, wat Saterdae en Sondae tussen 06:00 en 07:00 SAST op 144,300 MHz ESB bedrywig is. Baie stasies uit Gauteng en ander tot sover as Bloemfontein skakel daarby in.

In Kaapstad, het Mike Kellet, ZS1TAF, onlangs 'n net op Donderdagaande om 19:00 SAST op 144,300 MHz ESB van stapel gestuur en dit groei steeds..

Maandagaande om 19:00 SAST bedryf Al Akers, ZS2U, 'n net op 70,200 MHz FM in die Port-Elizabeth omgewing. Die antennas straal na die weste toe uit.

Kry jou BHF-toerusting in orde en kom gesels saam.


OOS-RANDKLUB HOU VLOOIMARK

Die Oos-Rand Radioklub se Wintervlooimark word op Saterdag 27 Junie 2015 vanaf 12:00 SAST gehou. Jy word aangemoedig om baie geld te bring, omdat daar iets sal wees wat jy nodig gaan kry of dalk loop jy 'n winskoop daar raak. Bring al jou eie oortollige toerusting saam, waarvan jy ontslae wil raak. Daar sál iemand anders wees wat dit nodig het. Skakel vir Judy op 079 730 2030 of stuur e-pos aan zs6erb@gmail.com om 'n tafel teen R30 te bespreek of meer inligting te kry.

Vir net R30 per looitjie staan jy 'n kans om tydens die Oktober 2015 vlooimark, 'n Daiwa
CN-801 kruisnaald staandegolf/kragmeter ter waarde van R2 250, geborg deur Sam`s Radio Accessories, te wen. Die kaartjies sal by hierdie Wintervlooimark te koop wees.

Los die fles tee en toebroodjies tuis. Daar sal boereworsrolle en koue drankies beskikbaar wees. Bring die familie en kom geniet die dag saam met ons.


SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Die volgende SA AMSAT Ruimtesimposium word op 20 Junie 2015 by die Innovation Centre in Pretoria aangebied. Die volgende punte sal aandag geniet: die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie bou sy tweede CubeSat; metodes om die krag-tot-gewig-verhouding van 'n kubus-satelliet te verhoog; bou van 'n grondstasie, solar vaar en opwindende opdaterings oor Kletskous.

Beplan jou volgende reis per satelliet in amateur radio en doen jou bespreking nou. Die sperdatum is 10 Junie. Radioliga- en AMSAT-lede kan afslag kry of ‘n prys wen met vroeë besprekings. Volledige besonderhede van die program kan nou afgelaai word by www.amsatsa.org.za of stuur 'n e-pos aan saamsat@intekom.co.za met "Space” in die onderwerplyn. Die volle pakket sal dan per e-pos aan jou gestuur word.


NOG ‘N AUSTRALIESE BALLON VAAR OM DIE AARDE

Die PS-46 ballon, van partytjiefoelie, se omswerwing uit Melbourne, Australië, oor die Suidelike Halfrond, kon nie aan homself oorgelaat word nie, hoewel dit ‘n mate van sorg vereis het.

‘n Baie opgewonde maar nederige Andy Nguyen VK3YT, wat die ballon met ‘n amateur loonvrag gelanseer het, het sy dank uitgespreek teenoor elkeen wat gehelp het om die ballon oor die kontinente te volg.

Hierdie heliumgevulde ballonne werk met sonkrag en gebruik ‘n 25 mW sender met WSPR, JT9 en soms Olivia-seine op die 20 en 30 meter bande.

Die PS-46 se vlug het heen en weer oor die Stille Oseaan gestrek na Suid-Amerika. Dit kruis die Atlantiese Oseaan tot by Namibië, sweef oor Suid-Afrika en die Indiese Oseaan na Kaap le Grande naby Esperance op pad terug na Australië.

JY LUISTER NA 'N NUUSBULLETIN VAN DIE SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA.

RADIO ZS OP DIE WEBWERF

** Die Mei/Junie 2015-uitgawe van Radio ZS behoort noual op die Liga se webwerf beskikbaar te wees. Lees daarin van “Arduino, 'n nuwe asem vir Amateurradio” deur Kevin, ZS6KMD; Riaan, ZS4PR, vertel meer oor die 50 ste herdenking van die Sasolburg Amateurradioklub en Mathew, M0LMK, verduidelik sy “Doen-dit-self-manpak” met 'n FT-857. Michael, 3D2JR, en sy vrou het rustig om die wêreld gevaar. Lees meer daaroor en oor die Suid-Afrikaanse Maritieme Mobielenet in “Sailing to Africa”. Op die oorlogsfront vertel Agent Tim ons meer van Klandestieneradio in die Tweede Wêreldoorlog.

Vanaf Juliemaand word Radio ZS 'n maandblad.

RADIO ZS SE FOTO-KOMPETISIE

** Die foto-kompetisie vir Radio ZS is steeds aan die gang. Met ‘n goeie voorbladfoto, wat amateurradio komplimenteer, kan jy die wenner wees van die antenna, wat as prys vir die beste bydrae aangebied word.

HF VOORPLANTINGSVERSLAG

In die gereelde voortplantingverslag van Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig hy dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot matig gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel en daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 63 vir die week gebruik.

Amateurs kan veral laatmiddag en gedurende die aande goeie openinge op die 20 tot 15 meter DX-bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste www.spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.





EN NOU VIR DIE DAGBOEK VAN GEBEURE

14 Junie – Jeugnet op 40 meter
17 Junie - Wêreld QRP Dag
20 Junie - die SA AMSAT Simposium
21 Junie – Vadersdag
26 tot 28 Junie - Ham Radio in Friedrichshafen
27 Junie - die Oosrand Wintervlooimark

Om hierdie bulletin mee af te sluit, herhaal ons die belangrikste item in vanoggend se nuus

Etienne Naude, ZS6EFN, het die SARL President Fritz Sutherland, ZS6SF, genader met 'n voorstel om die sogenaamde Rookie Radioamateur-program, in Suid-Afrika van stapel te stuur. Fritz het die voorstel by die daaropvolgende SARL-kommiteevergadering op 13 Mei 2015 voorgelê en dit is eenparig aanvaar. Volgens die president sal hierdie Rookie-program ‘n probleem aanspreek, waarmee die SARL lank reeds te kampe het. Dit word beplan om nuwe, onervare radioamateurs, van dag een af hierby te betrek en so hulle belanstelling in die amateurradiowetenskap te verseker.

Dit bring ons dan by die einde van hierdie bulletin.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies, van belang vir amateurradio en kortgolfluisteraars, met hulle te deel. Plaas nuusberigte indien moontlik, in Engels sowel as Afrikaans op die SARL se webtuiste onder die “newsinbox” skakel, voor of op die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 SAST na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op
7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM asook op verskeie BHF- en UHF-frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO is ook beskikbaar. Heruitsendings vind op Maandae om 18:30 SAST op 4895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nieamateur-frekwensies.

Ons ontvang graag jou seinrapport, kommentaar en voorstelle oor die bulletin. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA, saamgestel deur
Flip Britz ZS4GE, geredigeer deur Etienne Naude, ZS6EFN, en gelees deur
. . . . . . . . . (naam, roepsein, QTH).

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003